Text Size
Inteken

Gebedsbrief Bid vir Suid Afrika

Gebedsbrief: Junie
Moreleta_Geb_brief_hd

Gebedsbrief: Junie

In die volgende paar Gebedsbriewe wil ons bid vir ons land en regering. Ons almal in hierdie land het dit so nodig! Dit is die enigste wapen wat vestings kan neerwerp en deurbrake kan bring!

Die verkiesing is verby en ons loof die Here dat dit so glad en rustig verloop het. Nou wag daar nuwe uitdagings vir baie mense wat in poste aangestel is – meer as ooit het hul ons gebede nodig!

Die toekoms van hierdie land is in ons hande en ons kan nie langer toekyk hoe die bose dood en verwoesting saai nie. Nee! God het ons die outoriteit gegee om soos Moses voor Hom te gaan staan en te pleit dat Hy ons genadig sal wees, ons land sal genees en ons seën!

Ps. 106:23 - Hy het gesê Hy sou hulle vernietig, maar Moses, sy uitverkorene, het vir die volk in die bres getree en gepleit dat God sy toorn bedwing en hulle nie vernietig nie.
Ons land is onder ‘n geweldige geestelike, emosionele en fisiese aanslag. Ons moet die swaard van die Gees en die Woord opneem en in die bres gaan staan vir ons stad en land, net soos Moses.

Jer.18:8 – Maar as hulle ophou om die verkeerde dinge te doen waarvan Ek gepraat het, sal Ek hulle nie verwoes soos Ek aanvanklik wou nie.

Ons het die Skepper van Hemel en aarde as die God wat vir ons en namens ons veg! Laat ons begin bou en vestig deur woorde van geloof, hoop en liefde te spreek. Ons dade moet begin getuig dat ons volgelinge van Jesus is. Ons moet grense oorskry. Laat ons uitreik na die “melaatses” in ons omgewing. Kom ons vat hande in gebed en in geloof oor kleur- en taalgrense heen en pleit God vir genesing en heling van ons land en sy mense. Hy is nog dieselfde God wat Josua op die vlaktes van Jerigo (Jos.5-6) oorwinning gegee het, wat vir Dawid die oorwinning oor die Filistyne gegee het (1 Sam.17:45).

PrayForSA

Hoe moet ons bid?

• Jes. 10:1 – Ellende wag vir julle wat kwaad bevorder met die wette wat julle maak, wat met julle ordonnansies mense laat ly, julle verdraai die reg van die armes… Bid dat reg en geregtigheid op alle gebiede sal geld, dat wette wat gemaak word, sal bydrae tot vrede en voorspoed vir almal.

• Amos 4:6 – EK het hongersnood in al julle stede laat kom, broodgebrek in al julle dorpe, maar julle het julle nie tot My bekeer nie, sê die Here. Bid dat mense hul tot God sal bekeer, dat hulle sal besef van sonde, geregtigheid en oordeel. Bid dat die bindings wat deur dreigemente en haatspraak vrees by mense wakker maak, gebreek sal word.

• Eseg. 24:9 - Ellende wag vir die stad van bloedvergieting… Bid dat God die bloedvergieting in hierdie land sal stop.

• Bid dat God sal opstaan as Regverdige Regter en ‘n einde sal bring aan al die onreg in die land. Rom. 12:1-2 - Leef self ook onberispelik, geheilig en volkome toegewy aan God en leef volgens die wil van God.

• Gaan bid by jou plaaslike Regeringsgeboue, bid vir jul munisipale leiers by die name.

• Begin ‘n gebedswag by jul Polisiekantoor en bid daar op die grond dat die Here die Regter sal wees. Bid dat die waarheid in alle sake sal geld en dat alle leuens geopenbaar sal word.

• Gaan bid by die ingange van en na jul dorp of stad en vra dat die Here sal keer dat die vyand chaos kom saai in jul stad of dorp. Proklameer dat jou stad /dorp aan God behoort en dat die vyand geen reg daar het nie.

• Gaan praat met geestelike leiers en leraars en vra of jul nie saam ‘n gebedsgroep vir die stad kan begin nie.

Rainbow

Koning Sedekia en die priester Sefanja, het by Jeremia gekom en vir hom gevra: (Jer.21:2) – “Raadpleeg asseblief die Here namens ons…”

Miskien is jy die een wat moet begin om namens jou stad of dorp in die bres te gaan staan voor die Here. God soek net iemand wat gehoorsaam is, HY sal die res doen!

 

 

Susan Foord
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien

 

Powered by Mad Mimi®

Inteken- area