Text Size
Inteken

Vir ons Regering

Vir ons Regering

Here, U verander omstandighede en U stel konings aan en vervang hulle.(Dan.2:21).

Vader, met smeking, voorbidding en danksegging nader ons U die Koning van alle konings, vir konings, ons regering, en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan U en in alle  eerbaarheid. So is dit goed en aanneemlik vir U, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom (1Tim.2:1-4). Ons regeerders se wil staan onder U gesag, Here. Lei U dit soos ‘n stroom water waarheen U verkies (Spr.21:1). Verwyder die goddelose raadgewers uit die teenwoordigheid van ons regeringsleiers, die president, ministers en ander leiers sodat hulle regverdig kan regeer (Spr.25:5). Mag hierdie regering regverdig regeer sodat ons veilig kan woon (Spr.29:4). Laat ons regering reg laat geskied aan arm mense sodat ons stabiliteit mag hê (Spr.29:14).

Toon aan die president, die kabinet en al die regeringsleiers wat regverdig en goed is en wat U van hulle verlang. Werk in hulle harte sodat hulle reg sal laat  geskied, dat hulle liefde en trou sal bewys, en dat hulle bedagsaam sal lewe voor ons God (Miga.6:8). Here God, vul die harte van ons regeerders met liefde en getrouheid wat hulle sal bewaar sodat ons veiligheid en vrede kan beleef (Spr.20:7). Stuur asseblief U Heilige Gees in ons regeringsgeboue en plekke waar ons leiers vergader om wette en besluite te maak in, en  oortuig hulle van sonde, geregtigheid en oordeel (Joh.16:8-11).

As kinders van God bid ons dat U die regering sal bewaar teen die magte van hierdie donker wêreld en dat hulle nie betrokke sal raak in toordery, afgodery of enige vorm van okkultiese bedrywighede nie. As kerk weerstaan ons die duiwel waar hy probeer om die regering aan te val, versoek en mislei (Jak.4:7). Ons bid vir ‘n kerk wat U Woord profeties sal uitdra aan die regering; ‘n Kerk wat bereid sal wees om daarmee vol te
hou, tydig en ontydig, wat sal weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee (2Tim.4:2).

Amen!

Inteken- area