Ratwerk

Waardestelsel

Wanneer gaan die droom van lewensverandering begin waar word? Ons is oortuig dit gaan gebeur wanneer ons volgens hierdie vyf kernwaardes begin kerk wees:


VERHOUDINGS:
Ons bestaan vir verhoudings met God, gelowiges en die wêreld.

VERVULLING:
Ons leef oorgegee aan en in die krag van die Heilige Gees wat egte lewensverandering bewerk (“…dit doen die Here wat die Gees is” 2Kor. 3:18).

VOLGELINGE:
Ons help mekaar om radikaal gehoorsame volgelinge van Jesus te wees.

VERNUWING:
Ons wil deel in God se passie om sy wêreld te bring na vernuwing (heelheid).

VERSKEIDENHEID:
Ons verwelkom die feit dat nie almal dieselfde is, dink, voel en doen nie. Ons verwelkom dus verskeidenheid en poog om eietyds te wees.


 

Wat beteken 'kerksondermure'

WAT BEDOEL ONS MET kerksondermure?

Met ‘n kerk sonder mure bedoel ons ‘n geïntegreerde bestaan waar die tradisionele tweedeling (dualisme) tussen onder andere die volgende sake opgehef word:

Geestelike en sekulêre lewe - Gewone lidmate(leke) en spesiale lidmate(geestelikes) - Gewone (sekulêre) werk en “God se werk”.

Ons waak teen institusionalisme met die gepaardgaande koudheid, reglementering en ingesteldheid op die uiterlike. Anders as in ‘n kerk as instituut word sukses in ‘n kerk sonder mure nie deur getalle en ander uiterlike maatstawwe gemeet nie. Ons enigste maatstaf is God se wil soos Hy dit vir ons verWoord het. Teenoor die koudheid lê ons klem op warm, hartlike verhoudings onder mekaar en in die samelewing. Ons glo die lidmate van ‘n gemeente is die kerk, wat heelweek as Christene leef.

‘n Kerk sonder mure verstaan sy konteks en maak die nodige aanpassings sodat God se Woord onafgewater op ‘n eietydse wyse geleef en verkondig kan word. God se Woord staan altyd sentraal. Die konteks waarbinne ons moet kerk wees is ‘n land (SA) en ‘n wêreld wat ‘n dringende behoefte het aan versoening (met God en mekaar), aan die herstel van Bybelse norme, en armoedeverligting. Matt 25:40 `Ek verseker julle: As julle iets hiervan vir een van my broers of susters gedoen het, selfs al was dit vir die heel eenvoudigste onder hulle, het julle dit vir My gedoen.

God se plan met die kerk (soos met Israel) was nooit dat dit ‘n doel op sig self moet wees nie. ‘n Gemeente wat net vir homself bestaan (na binne gerig), verloor die wese van God se bedoeling met die kerk en is daarom nie kerk in die volle sin van die Woord nie. Die kerk (elke gemeente) bestaan om God se koninkryk te laat kom. Met ander woorde, die kerk bestaan om as God se verteenwoordigers saam met Hom te werk om Christus se verlossing/herskepping/koningskap te laat deurwerk na alle terreine van die samelewing. Ons moet saamwerk om die hele skepping “heel te maak” sodat dit weer kan wees soos God dit oorspronklik bedoel het. “Laat U wil op die aarde geskied soos in die hemel”.

Elke lidmaat is geroep om ‘n koninkryksbouer te wees, om saam te werk dat God se nuwe wêreld kan sigbaar word. Dit behels dat hulle geleenthede sal soek en benut om mense, in gesprekke (binne verhoudings), aan Jesus as Here en Verlosser bekend te stel. Hierdie gesprekke moet altyd ondersteun en bevestig word deur ‘n leefwyse van liefde en gehoorsaamheid. Die roeping as koninkryksbouer behels verder dat lidmate sal leef en werk in God se wêreld, in gehoorsaamheid aan God se wil soos Hy dit vir ons in sy Woord leer. In ‘n kerk sonder mure is daar dus nie sommige lidmate met ‘n roeping (byvoorbeeld sendelinge, pastore en dominees) en ander sonder ‘n roeping (sogenaamde leke) nie. Elke gelowige het ‘n roeping.

As die roeping van die kerk dan die heelmaak van God se wêreld is, moet ons daarteen waak dat lidmate se tyd en energie opgeslurp word deur die instandhouding en ontwikkeling van die kerk as instituut. Gelowiges moet eerder toegerus (bemagtig) en bevry (“release”) word om hulle roeping in God se wêreld te gaan leef.

In onder andere die selgemeentes en ander kleingroepe aanvaar lidmate verantwoordelikheid vir mekaar. Hierdie verantwoordelikheid behels dat hulle, as lede van Christus se liggaam, met hulle gawes, mekaar geestelik, fisies en emosioneel versorg, sodat hulle as heel mense kan saamwerk aan die heelmaak van God se wêreld. Jes 58:8 `As jy dit doen, sal die lig vir jou deurbreek soos die nuwe dag.

Hierdie herverstaan van die kerk se taak as koninkryksbouers, bring mee dat die rol van die leraars en ander geestelike leiers skuif na die toerusting van gelowiges vir die uitleef van hulle roeping in die wêreld.

In die lig van bogenoemde en na ’n deeglike en biddende strategiese beplannings proses glo ons God se visie vir kerksondermure is: Hier verander lewens.

Die vraag is: waar is “hier”? As jy as lidmaat van kerksondermure op die grond staan en ‘n kring rondom jou trek, begin die verandering binne in die kring. Dit begin by jou waar jy deur “die Here wat die Gees is”, verander word om al hoe meer soos Jesus te word en te leef. Hierdie verandering kring uit na oral waar die lidmate as kerksondermure leef en na waar die invloed van die gemeente strek.

 

Wie is kerksondermure

The Church of Auvers is die naam van een van Vincent van Gogh se heel laaste skilderye en is ’n besonderse werk, omdat dit iets teken van hierdie hartseer skilder se belewenis van die kerk.  Iemand wat die skildery mooi bekyk sien voor die kerk loop twee paaie, die een gaan links verby en die ander regs. Nie een van die twee lei na die kerk nie.  Wanneer jy na die gebou self kyk is dit opvallend dat daar geen deure is nie - net vensters.  Dis duidelik van Gogh se belewenis van die kerk was een van geslotenheid, ontoeganklikheid.  Hierdie belewenis van ‘n kerk met mure is bevestig deur die kerk se optrede toe hulle nadat van Gogh homself in die veld agter die kerk doodgeskiet het, geweier het om hom te begrawe.

Die vraag wat hierdie verhaal na ‘n mens toe slinger is: hoe anders was die optrede van die Een wat die storie van die verlore seun vertel het? Hoe anders was die een wat in die sand skryf en ‘n slegte vrou weer laat lewe, wat kuier saam met die uitgeworpenes, wat nie gekom het vir die gesondes nie? Hoe anders was die kerk waaraan Jesus deur sy Gees geboorte geskenk het?

Ons glo God wil ons gemeente sò anders maak. Anders soos Jesus en die kerk waaroor Hy droom. Om uitdrukking te gee aan hierdie andersheid het hy vir ons ‘n ander naam gegee – kerksondermure. ‘n Naam wat praat van ‘n verwelkomende gemeenskap. Van ‘n gemeente wat doelbewus mensgemaakte mure (hindernisse) afbreek tussen ons en mense buite die kerk, tussen gelowiges in die kerk en tussen mense en ‘n liefdevolle Vader God. Die Naam sê ons bestaan en leef nie vir onsself nie, maar, soos Jesus, vir God en sy wêreld. Dit gebeur nie net op Sondag nie, maar sewe dae per week. Ons bid dat God ons al hoe meer by ons naam sal laat pas!

Ons glo dat God, net soos met Israel – ‘n definitiewe plan met ons het. Ons glo die kerk se identiteit bestaan daarin dat ons aan God behoort op grond van Jesus se offer van Verlossing. Ons kan nie deel wees van sy kerk sonder ‘n persoonlike geloofsverbintenis aan Hom nie. Ons moet persoonlik die versoening aanvaar wat Christus vir ons bewerk het, sodat die Gees ons lewe kan nuutmaak.

As God se eiendom leef ons nou in die teenwoordigheid van God en glo dat Hy ons kan gebruik om lewensverandering moontlik te maak. Dit word vervat in die woorde van ons jaartema: Skep vandag U nuwe toekoms deur my!

   
Restore Default Settings

Inteken- area