Laas Opdateer op Vrydag, 18 September 2009 17:07 Geskryf deur Ds. Fanie Venter Woensdag, 01 Julie 2009 04:44

Toe Bok van Blerk se liedjie oor Generaal Koos de La Rey opslae gemaak het, was daar diegene wat beweer het die gewildheid van die liedjie het te make met 'n behoefte aan sterk rigtinggewende leierskap.
Of dit waar is, weet ek nie. Ander beweer weer dat daar in ons land op byna elke terrein 'n leierskapsvakuum bestaan. Dit mag waar wees, maar ek wonder of 'n mens nie die rede vir hierdie belewenis dalk op ander plekke moet gaan soek nie. Een van die plekke waar ons moet gaan soek, is by ons tradisionele definisies van leierskap.
- Dit kweek skouerophalende “volgelinge” wat wag dat generaalagtige leiersfigure met 'n paar sterk opdragte dinge vir ons kom regruk. Sleutelwoorde in hierdie verstaan van leierskap is woorde soos mag, beheer, kontrole en gesag.
- Dit maak van leierskap iets wat nie vir gewone mense beskore is nie.
Dan gaan dit oor sterk mans wat alleen praat en ander moet luister en oortuig word.
Ek hou daarom baie meer van hierdie definisie wat ek êrens raakgelees het: “Leiers is mense wat 'n brandende passie het om die wêreld 'n beter plek te maak; om hulle omgewing beter te laat funksioneer en wat geen steen onaangeroer laat om dit waar te maak nie”.
Leierskap het dus alles te doen met roeping. God het Sy Seun geroep en na ons wêreld gestuur om heel te maak. Hy roep steeds Sy kinders om deel te neem aan Sy groot opdrag. In ons roeping mag ons geen steen onaangeraak laat nie, want die wete dat God jou geroep het, vul 'n mens met moed. Nelus Niemandt sê dit goed: “Die kerk en die wêreld smag na leiers wat werklik geroep is ... leiers wat eenvoudig nie kan rus of iets kan uitlos nie, want hulle roeping dryf hulle en almal om hulle”. Sulke leiers is nie bang om mag weg te gee nie, want hulle verstaan dat die groot dinge wat God doen, werklik buite menslike beheer lê. In pynlike situasies het ons sulke leiers nodig. Wanneer jou gesin ongemak en pyn beleef, is jy as leier daar nodig. Jy is nodig op kantoor, op die sportveld en in die kerk.
Dit klink vir my asof 'n nuwe definisie van leierskap vir gewone mense sê : wees die leier waaraan jy en die wêreld 'n behoefte het. Kom vul jy die leierskapsvakuum.



