Laas Opdateer op Vrydag, 21 Januarie 2011 16:50 Geskryf deur Rita Barnes Donderdag, 08 April 2010 02:09
Wat is die Enkelouerbediening ?
Die Netwerk vir Lewe Sentrum het die behoefte van enkel ma's en pa's om
by 'n bediening in te skakel waar ander se omstandighede min of meer dieselfde is,
raakgesien. Die Enkelouerbediening is nie net daar vir enkelouers nie,
maar ook vir enige ander enkelpersoon wat graag wil inskakel.
Lede van ander gemeentes is hartlik welkom om deel te wees
van die kerksondermure Enkelouerbediening!

Ons Visie
Om bystand en ondersteuning, deur middel van berading, terapie,
lewensvaardigheidsprogramme, opbouende praatjies, inligtingsessies,
persoonlike bemagtiging, sosiale byeenkomste en vele meer,
aan enige enkelpersoon in die Gemeente en Gemeenskap te bied.
Ons Missie
Professionele en etiese dienslewering ter bevordering van die emosionele,
geestelike en fisiese welstand van enkelpersone, ongeag ouderdom, geslag of denominasie.
Ons Doelstellings
Om ons werksaamhede, bronne en spesialisvaardighede te fokus op
enige enkelpersoon (met of sonder kinders) met 'n behoefte aan berading,
terapie, bystand en ondersteuning, sosialisering en lewensvaardigheidsopleiding.

Wat doen die Enkelouerbediening ?
Byeenkomste vind maandeliks by kerksondermure plaas - gewoonlik die laaste Vrydagaand van elke maand. Na gelang van die behoeftes en versoeke van enkelouers, reël ons professionele sprekers om inligtingsessies aan te bied wat 'n wye veld dek soos regsaspekte, finansies, verhoudings, ouerleiding, emosionele intelligensie en vele meer. Hierdie inligtingsessies word afgewissel met ligter luim aktiwiteite soos bring-en-braai's, speletjiesaande, teaterbesoeke, daguitstappies ens.
Met inligtingsessies, en afhangende natuurlik van die tema, stel ons 'n gratis kinderoppasdiens beskikbaar sodat ma of pa 'n blaaskansie kan kry.
Een van die hoogtepunte in die Enkelouerbediening is ons jaarlikse kamp! In Maart het sowat 40 ouers en kinders by Die Hoekie kampterrein buite Pretoria, 'n naweek van pret, skaterlag en 'n magdom van aktiwiteite beleef. Ons kon ook in die stilte van die natuur die wonder van God se Skepping aanskou en waardeer, en Hom saam met ons kinders loof en prys. Al het ons (seer) spiere ontdek wat ons nooit bewus was wat selfs bestáán nie, koester ons die nuwe vriendskappe wat ons kon sluit en waardeer ons mekaar soveel meer. Die kamp was vir een en almal 'n lewensverrykende ervaring en het ons geleer om elkeen se unieke omstandighede en lewensstorie met liefde te aanvaar en respekteer.




Ons moedig ook enkelouers aan om die jaarlikse gesinskamp by te woon - die 2010 Gesinskamp
vind plaas in Oktober en beloof om díe geleentheid van die jaar te wees! Akkommodasie,
of selfs tent/karavaanstaanplekke kan gedeel word om die finansiële las ligter te maak.
Hou die afkondigings dop vir meer inligting.




Wat kos dit ?
Grotendeels, net daardie eerste stappie wat dit jou gaan neem om ons te kontak en aan te sluit!
Tydens bring-en-braai's bring jy net jou eie vleis en drinkgoed - die Enkelouerbediening
voorsien pap, sous, slaai en die vuur. Met inligtingsessies en ander uitstappies probeer
ons die kostes, indien enige, tot die absolute minimum beperk - ons verstaan immers dat
elke enkelouer hul sente om en om moet draai. Kampfooie word gedeeltelik deur die
Netwerk vir Lewe Sentrum gesubsidieer en enkelouers betaal slegs 'n persentasie van
die totale koste. Indien finansies selfs dán nogsteeds 'n probleem is, kan 'n aansoek
aan die Bedieningsleier gerig word wat dit persoonlik met die betrokke enkelouer sal opneem.

Hoe kan jy aansluit ?
Kliek op hierdie skakel - voltooi die vormpie en stuur dit aan
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien
of faks aan 086-617-5669 - ons plaas jou dan op die databasis en hou jou op hoogte
van al die Enkelouerbediening aktiwiteite en nuus.
Jy kan die Netwerk vir Lewe Sentrum ook gerus skakel
by (012) 663-1610 vir enige ander hulp of inligting wat jy benodig.
Bronnelys
Het jy artikels of name van boeke, DVD's, webwerwe, rekenaarprogramme, ens. wat nuttig
en maklik bekombaar vir ander enkelouers is ? Stuur die inligting na
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien
-
ons wil graag 'n verwysingsraamwerk saamstel waarby ons almal kan baatvind.
Ander Idees
Stuur 'n e-pos aan
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien
indien jy graag idees met ons wil deel rakende
aktiwiteite en praatjies wat vir die enkelouers gereël kan word. Selfs al as jy weet van
goeie sprekers wat nie 'n arm en 'n been gaan kos nie, laat weet ons asb ?
Program vir 2011
(onderhewig aan verandering)
28 Januarie
Afskop-Funksie
25 Februarie
(...)
19 Maart
Saterdag Uitstappie / Naweek Kamp
15 April
(...)
20 Mei
(...)
10 Junie
(...)
29 Julie
(...)
26 Augustus
(...)
23 September
(...)
15 Oktober
Saterdag Uitstappie
25 November
(...)


