Text Size
Inteken

SELLEIERS HULPBLAD Week van 12-18 Julie

SELLEIERS HULPBLAD BY ksm-SELMATERIAAL       Week van 12 tot 18 Julie 2010

 

Beste ksm- selleier, net ’n paar notas oor die voorgestelde orde en inhoud van hierdie week se ksm-selmateriaal:

  1. VOORGESTELDE VOLGORDE EN PROSEDURE VAN DIE WEEK:

Afhangende van struktuur van sel (kinders of nie, getal lede, tyd beskikbaar ens):-

19:00  Ontmoet en kuier – lede kry koffie/ tee (gaan sit) en leier vra die Lief en Leed-vraag;

19:20  Musiekleier of gasheer/ gasvrou lei sel in aanbidding voor God met musiekopname, voorlesing van byv gedig of fragment prosa, lofprysing, ens .  Musiekleier, selleier of ander lid (vooraf gevra) doen die openingsgebed (God se teenwoordigheid gesoek) in die loop van die sang/ musiek/ voorlesing soos beplan;    [As een of twee lede kan voorberei en ’n musieknommer lewer, is dit dikwels baie spesiaal – veral deur ons vrymoedige tieners.]

19:40  Enige getuienisse van lede oor wat God met hulle gedoen of gepraat het die afgelope week.  (Afhangende van die kinders se ouderdomme kan hulle voor of ná hierdie item verskuif om onder leiding van een van die volwassenes oor die sewende, agste en negende elemente van die vrug van die Gees in Gal 5: 22 saam te gesels.  Onthou dat gelowige kinders ook die Heilige Gees in hulle het en die elemente van die vrug van die Gees in hulle lewens toon – dikwels eenvoudiger en meer opreg as ons volwassenes.)  Bid vir elke lid in jou hart terwyl hy of sy besig is met getuienis;

19:55  Selgesprek oor “Op pad met Jesus se liefde — wys daar buitengewone, Goddelike GETROUHEID .... NEDERIGHEID .... SELFBEHEERSING .... in my lewe.”

20:50  Preek soos die vorige Sondagoggend by kerksondermure aan die orde – hou dop vir die moontlike skakeling deur die Gees van die Here met die ander selmateriaal van hierdie week.

(NB.  Wees oop vir die leiding van die Gees maar oppas om te veel tyd aan net een deel te spandeer – die verskillende dele vorm ’n geheel met ’n logiese afsluiting.  Daar is in die skolevakansie nie tematiese skakeling tussen kategese/ jeugwerk en die preekmateriaal nie en ons begin dus eers vanaf Sondag 18 Julie met die kwartaal se gesamentlike tema.)

21:00  Gebed en afsluiting.

Ä  Onthou asseblief om by die openingsgebed die Heilige Gees te vra om sy Vrug vir julle as sel te gee.  Hierdie materiaal is ontwerp om lede met mekaar te laat deel wat hulle in hul harte by die Gees ‘hoor’.  Loop asseblief self ook met hierdie gebed in jou hart in die dae voor die selbyeenkoms en verwag baie van die Gees vir die aand!  Vra die Gees ook om die Leermeester in die selgroeplede se harte te wees — om die woorde wat ‘oorbekend’ klink nuut oop te maak vir almal en te gebruik om lewens te verander.

 

  1. Aantekeninge by die voorbereidingstuk vir hierdie week:
    1. Dis skoolvakansie en ons het dus geen jeugwerkmateriaal oor die tema van die week nie.  Ons sal vir die vakansieweke baie prakties die “Op pad met Jesus se liefde”-jaartema die nege elemente van die vrug van die Gees vir ons laat oopsluit.
    2. Die tema van die dag en die aansluiting by die jaartema (Op pad met Jesus se liefde…) word in opskrifstyl gegee as ’n soort aankondiging in die loop van die program vir jou gerief.
    3. Onthou asseblief weer, dis die wag op die Here wat hier die diepte gaan bring (en dis nie jou werk om ’n super-teologiese lesing wat almal verstom te gee nie).  Lede word aangemoedig om hom/ haar oop te maak vir die Here se stem en pront te vra: “Wat wil U hiermee vir my sê, Here?”  Laat jou deur die Gees lei – en moenie bang wees om, as jy dit ervaar, die sel by ’n heilige moment eers te vra om weer elkeen voor die Here stil te word nie.
    4. Lees gerus weer deur die sewe sleutels (weer hier onder afgedruk vir jou gerief).  Onthou dat die eerste sleutel daar beteken dat die Gees se inwoning en onbelemmerde werking in die kind van God sy hele lewe anders maak en in hom/ haar die werk van Jesus wys vir enigeen om te sien.
    5. Dis onmoontlik vir gewone mense soos ons om hierdie vers ‘uit te put’.  Daar sal altyd nóg wees om by die Here hieroor te hoor.   Wees veral versigtig om die woordjies as oorbekende begrippe te sien.   Stop liewer en probeer die Here verder te hoor oor wat elkeen eintlik beteken, hoe die begrippe by mekaar inskakel, hoe hulle in die beeld van die vrug op geestelike groei wys, wat hulle in jou lewe beteken, nog kán beteken, ens.  Die elemente begin byvoorbeeld met ’n ‘bekende’ een en sluit af met ’n paar wat meer ‘misterieus’ is – asof hulle doelbewus vrae opwek.  Dít jaag jou weer terug na die geheel … en laat jou telkens vassteek by die eienaardige afsluitsin: “Teen sulke dinge is daar nie ’n wet nie.”  [Afr 83  “… het die wet niks nie.”]
    6. Onthou weer die onderskeiding tussen die (1)spesiale genadegawes van die Gees, die (2)bedieninge van die Gees en die (3)kragtige werkinge van die Gees (almal daar by I Kor 12: 4-6) en dan die (4)‘vrug van die Gees.  Die vrug van die Gees in jou lewe is die natuurlike gevolg van die inwoning en onbelemmerde werking van die Gees.  Daar is verder heelwat verskille wat mens kan raaksien, maar miskien is nog een van die meer belangrikes dat God die genadegawes gee tot opbou van die gemeente en die vrug gee vir die wêreld om te sien dat daar iets uiters spesiaal aan die gang is in sy kinders se lewens.    NB: Jy kan nie een van die twee in eie krag in jou lewe prakseer (inoefen of self fabriseer) nie.
    7. Hierdie ‘dryfkragte’ van liefde-vreugde-vrede ens moet deur jou aangevra en toegelaat word.  Jy kan altyd die Gees bedroef, teëstaan en selfs uitblus.
    8. Hou asseblief die gesprek so eenvoudig en so prakties as moontlik.  Daag gerus die Selgroep uit om die week deur te gaan met die konstante gebed: “Laat my hierdie week regtig getrou wees aan U, my Vader; laat my nederig wees soos Jesus; laat my volhard met die nuwe lewe deur u Gees wat in my woon …”
    9. i.        Volgende week vanaf 19 Julie tel ons DV weer die gemeente-tema op saam met die jeugwerk/ kategese en die prediking. 
    10. As jy van gedagte is dat die lede só beter vir die sel gaan voorberei, kan jy vir elkeen die hele Voorbereidingstuk van Week 12 tot 18 Julie 2010 netso per e-pos aanstuur en hulle vra om dit vir hulself uit te druk.  Dis doelbewus net een bladsy A3.

 

Sterkte en seën met julle sel vandeesweek!
Hannes

Addendum:

SEWE SLEUTELS BY DIE VERSTAAN VAN GAL 5: 22

*  Die woord ‘vrug’ in die vers is doelbewus enkelvoud – ‘vrug’ en nie vrugte nie.  Dus een vrug met nege verskillende elemente – soos vorm, kleur, geur, tekstuur, smaak, sap, ens.

*  Die vrug van die Gees in jou lewe is die natuurlike gevolg van die inwoning en onbelemmerde teenwoordigheid van die Gees daar.  (In alle alledaagse én buitengewone situasies.)

*  Die beeld van ‘vrug’ is ’n aanduiding van geestelike groei en rypwording in die kind van die Here.

*  Die aangename gedagte aan ’n geurige, gesonde, voedsame vrug as kos roep die waarheid op van God as Skepper se versorging en God as Redder se herstel van sy beeld in jou.

*  Die volgorde is nie toevallig nie!  Dit begin met ’n bepaalde een en sluit met ’n bepaalde een en die elemente werk op mekaar ín volgens hulle plasing.

*  Elke element lei ons na die volgende een.  Waar daar ‘absolute liefde’ is, volg ‘vreugde’.

*  Gebrek aan ’n bepaalde element wys jou terug na die vorige element.  Kort jy byvoorbeeld ‘vrede’, het iets waarskynlik jou ‘vreugde’ gesteel.

Inteken- area