Geskryf deur hannes gildenhuys Donderdag, 18 Maart 2010 09:18
Wat is ’n sel-familiefees? Dis ’n ontspanne geleentheid waar ’n gemeente se selgroepe bymekaarkom en met mekaar hulle kindskap van God vier deur byv saamsing, kenmekaar, lag, kuier, enkele getuienisse en avontuurlike saambid. (Die ‘familie’-gedagte kom oorspronklik daarvandaan dat selle se natuurlike lewe bestaan uit ’n begin, ’n groeifase, vermeerdering deur verdeling en nuwe groei in die nuwe selgroepe – wat die oorsprong en verband met ander selle onthou en weer wil vier.)
Hoekom het ons ’n selfamiliefees dringend nodig? Ksm is ’n groot gemeente. Lidmate leer mekaar in die massa nie altyd ken nie en kruip soms instinktief weg of sit en wag dat iemand hulle ‘raaksien’. Dit kan beteken dat hulle toeskouers bly; moontlik selfs óf gladnie die Here ontmoet óf geen deelname aan gemeentebedieninge het nie en weinig geestelike groei ervaar. Dít kan dan beteken dat hulle afkoel en verdwyn sonder dat hulle lewens verander en hulle ’n nuwe lewe in Jesus in hulle wêreld uitleef soos ons graag sou wou sien.
Inskakeling by ’n aktiewe sel is ’n goeie vertrekpunt om dié probleem op te los – waar daar ’n doelgerigde sel-kultuur in ’n doelgerigde selgroep-organisasie bestaan met ’n sterk familieverbintenis en lewendige kommunikasie. Dis ’n gawe en ’n wonder van die Here dat ksm se selle en selleiers ’n ‘familieverband’ met ander selle aanvoel en dit wil laat werk vir sy koninkryk.
Leiersopleiding, leierstoerusting, opbou van konstante kommunikasie tussen gemeenteleiding en selle en dan nou veral ook familiefeeste is belangrik vir die uitbou van die gemeente-identiteit. Hier by die selfamiliefees kan ons van die groot veranderinge in ons lewens vir mekaar kom vertel en dit vier.
Hoekom het ons selleiers so sterk gevra om mekaar te ontmoet en te leer ken? Selleiers het verras by die leierwerkswinkel toe ’n hele klomp van hulle gevra het vir geleenthede om mekaar te ontmoet en te leer ken. Dis duidelik uit die terugvoering dat hulle by mekaar wil hoor oor materiaal vir selbyeenkomste, ‘suksesvolle’ aande, ‘mislukkings’, inskakeling by gemeenteprojekte en veral ook die ervaring van die Here se teenwoordigheid.
Die dinamiek van groepe wat mekaar regtig goed leer ken het, is aansteeklik en moet sigbaar gemaak word vir opkomende jong (en dikwels wéér vir ouer!) groepe.
Daar moet lekker peuselgoed ook wees. Soos in die Handelinge-gemeente. (Hulle het volgens Lukas duidelik ’n bordjie soet en ’n bordjie of twee sout per sel na liefdesmaaltye gebring. Of so sê ons dierbare dames wat al die ou paaie ken en afrikaanse GPSse het vir die postmoderne roetes van ons dag.)
Dit moet ’n gesins-aand wees, ja? Nou hoekom? Die mees geslaagde selle is daar waar die kinders geredelik en gereeld tuis voel in hul ouers se selgroep – al sou hulle ook selde saamsit met formele dele van die sel se byeenkomste. Selfamiliefeeste se feesstyl skep ’n geleentheid waar ons kinders deel van die groot kerkfamilie is en kosbare ‘eiendom’ van hulle ouers se sel voel. Ons weet dis ’n skoolaand en ons hou rekening met slaaptyd vir die kleingoed – daarom maak ons ‘amptelike’ deel van die program voor halfnege klaar. Maar bring hulle asseblief saam – selfs as ons daar ’n aparte speelkamer onder toesig moet hê. (Bring die kleinstes sommer klaar gebad en in hulle pajamas.) Veral tieners is natuurlik die oulikste selgenote waar die grootmense hulle opinies vra en dit graag hoor.
En hoe lyk dit met kenmekaar-kompetisies met lekker pryse? Natuurlik, dis die styl van die aand. Soos byvoorbeeld die jongs getroude paartjie, die lid met die meeste selgroepjare agter die blad, die jongste baba, die grootste sel, die ‘nuutste’ sel, die sel met die meeste kinders hier, die lid naaste aan sy/ haar verjaarsdag, ens.
Daar moét net lofprysing en aanbidding ook wees. Kan nie ’n fees wees daarsonder nie, kan dit? Ons versoek aan ons sangvoorgangers is feessang en lofliedere wat oorgaan na ’n atmosfeer van aanbidding en diep persoonlike wyding. Ons is ’n baie besondere groep mense wat eers tevrede is as ons die teenwoordigheid van die Here daar ervaar. Ons begin doelbewus met die sang vyf minute voor die amptelike begintyd om op te bou na ‘heilige tyd’ in ’n ‘heilige plek’.
Waarheen is ons op pad op die langer termyn? Soos wat selle vermeerder en groei, kan selfamiliefeeste al meer ’n plek word waar ons onder leiding van ons leraars doelbewus die ‘kultuur’ van kerksondermure geniet en sien ontwikkel saam met die plan van God met ons en ons gemeente in ’n veranderende wêreld.
Ons wil selfamiliefeeste ’n wil-dit-nie-mis-nie-kuiergeleentheid maak. Maar dit moet daarby veral ook geestelike ervarings wees. Ons bid van die Here hierdie keer reeds vir ’n groot ervaring van liefde onder mekaar en direk daardeur ’n opwelling van instinktiewe lof vir die Here, ’n rêrige Hand 2: 42-ervaring.
Getuienisse van die beweging van die Gees in ons selgroepe en in sellede se lewens. Al begin ons baie stadig daarmee is hierdie nederige getuienisse deur geloofsfamilie – gedra op die gebede van hul selgenote – voor die groot groep van die grootste belang. Ons deel in daardie oomblikke met mekaar die ervaring van ons lewende God en word self lewende offerandes wat Hy heilig en aanvaar. Oefening in dissipelmaking reg uit die hand van God.
Voorgestelde program-elemente vir die aand – eerste rofwerk:
- Lof- en aanbiddingsang met ons musiekbedieningspan;
- Waar pas ons selle by die groot prent van ons gemeente in? Skrif en wyding.
- Kenmekaar oor bedienings en projekte;
- Twee getuienisse;
- Selleiers voorgestel en basiese selfeite genoem;
- Kenmekaar algemeen – pryse en pret vir ons interessante selgenote;
- Elke sel ontmoet een ander sel en snuffel raakpunte uit by mekaar;


