Laas Opdateer op Maandag, 08 Februarie 2010 21:28 Geskryf deur hannes gildenhuys Maandag, 08 Februarie 2010 21:17
KSM SELLEIERS NUUSBRIEF #3 VAN 2010
Maandag 8 Februarie 2010
Aan elkeen van ons ksm-selleiers:
Die Here het ons regtig besonders geseën met selleiers wat Hy geroep het tot sy diens. Dít het ons weer opwindend duidelik die afgelope week by die sel-indeling Woensdagaand en die werkswinkel Saterdag gesien. Daar’s passie, daar’s vaardigheid, daar’s gewilligheid om hulleself te offer en te dien. En dan is Hy ook besig om gedurigdeur toegewyde sellede by te voeg – mense wat moeite doen om te kom soek na die sel waar hulle voel die Here vir hulle in sy liefde wil plaas.
Selsoekers:
Hierdie soektog gaan elke dag nog aan – vir bestaande selle wat agterkom dat die Here nuwe mense by hulle wil voeg, vir nuwe selle wat begin ontstaan, vir sellede wat raakhoor dat die Here hulle nuwe seleiers wil maak. Skakel asseblief – ons wil julle graag probeer help.
Webblad:
Ons gemeente het ’n nuwe, opwindende webblad waar ons ons eie selgroep-kwartiere het waar ons nou moet ‘meubels-indra’ en ‘gordyne hang’. Skakel in op www.ksm.co.za en kyk onder Groeigroepe vir Selgroepe. Daar’s op hierdie oomblik nog niks daar nie – ons is as selleierskorps self verantwoordelik vir die inhoud. Oulike idees word dié dae al ge-opper en elkeen is welkom om te skakel met voorstelle en bydraes.
Ons dertigergroep is ons natuurlik lankal vóór met hulle eie webblad en dinge woel klaarblyklik daar. Loer gerus in by http://hjb-racing.co.za/30plus
Selleiertoerusting:
Sondagaande by die kerk die uur voor die aanddiens – 17:30 tot 18:30. Baie waardevol om voor te berei vir jou week-selbyeenkoms met besprekingsvrae oor die Sondag-oggenddiens, gesprek oor die opsionele ksm-materiaal vir die week, suksesverhale en sukkel-sake van die vorige week se selbyeenkomste. Ons is baie ernstig met groei hier.
Keuses van onderwerpe vir die week:
Ons het ’n wye keuse van materiaal wat in die selbyeenkoms behandel kan word:
- Elke sel kan natuurlik self materiaal soek of by hulle lede of by ander selle kry;
- Ons sal binnekort op die web die titels in ons kerk-‘bibliotekie’ beskikbaar publiseer met ’n aparte lys van materiaal uit ervaring aanbeveel deur selleiers;
- Ons het by die leierswerkwinkel die huidige ‘Moreleta’-materiaal – effens aangepas vir ksm-gebruik – begin deurgee;
- Ons het ons eie ksm-materiaal wat weekliks aansluit by die vorige Sondagoggend se erediens, by die 'Een groot gedagte' van ons Jeugsillabusse en oorhoofs by die jaartema, ‘Op pad met Jesus se liefde’. Dis in verskillende modules beskikbaar in die volgstukke wat ons Maandagoggende vir selleiers aanstuur.
Belangrike datums vir die (nadere en verre) toekoms:
Selleierstoerusting Sondagaand 14 Februarie 17:30 tot 18:30 by die kerk
Nuwe lidmate -verwelkoming Woensdagaand 24 Februarie – ons soek ’n klompie wakker selleiers wat met nuwe lidmate oor selgroepe kan gesels. Stuur name asb vroegtydig in.
Selle se Familiefees Woensdagaand 24 Maart met ’n Liefdesmaal — 18:00 tot 20:30
Teken asseblief hierdie datums in u dagboek aan en gee dit nou al deur vir u sellede.
Groete vireers. Volgende keer meer oor “Kweek-selle” vir selsoekers en die kuier met nuwe lidmate oor twee weke.
Hannes Gildenhuys
ksm-selbediening
[NB: As u 'n selleier is en nie hierdie nuusbrief per e-pos ontvang het nie, kontak my asseblief dringend sodat ek u op ons selleierposlys kan plaas.]
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien


