Selgroepe

SELLEIERS HULPBLAD Week van 12-18 Julie

SELLEIERS HULPBLAD BY ksm-SELMATERIAAL       Week van 12 tot 18 Julie 2010

 

Beste ksm- selleier, net ’n paar notas oor die voorgestelde orde en inhoud van hierdie week se ksm-selmateriaal:

  1. VOORGESTELDE VOLGORDE EN PROSEDURE VAN DIE WEEK:

Afhangende van struktuur van sel (kinders of nie, getal lede, tyd beskikbaar ens):-

19:00  Ontmoet en kuier – lede kry koffie/ tee (gaan sit) en leier vra die Lief en Leed-vraag;

19:20  Musiekleier of gasheer/ gasvrou lei sel in aanbidding voor God met musiekopname, voorlesing van byv gedig of fragment prosa, lofprysing, ens .  Musiekleier, selleier of ander lid (vooraf gevra) doen die openingsgebed (God se teenwoordigheid gesoek) in die loop van die sang/ musiek/ voorlesing soos beplan;    [As een of twee lede kan voorberei en ’n musieknommer lewer, is dit dikwels baie spesiaal – veral deur ons vrymoedige tieners.]

19:40  Enige getuienisse van lede oor wat God met hulle gedoen of gepraat het die afgelope week.  (Afhangende van die kinders se ouderdomme kan hulle voor of ná hierdie item verskuif om onder leiding van een van die volwassenes oor die sewende, agste en negende elemente van die vrug van die Gees in Gal 5: 22 saam te gesels.  Onthou dat gelowige kinders ook die Heilige Gees in hulle het en die elemente van die vrug van die Gees in hulle lewens toon – dikwels eenvoudiger en meer opreg as ons volwassenes.)  Bid vir elke lid in jou hart terwyl hy of sy besig is met getuienis;

19:55  Selgesprek oor “Op pad met Jesus se liefde — wys daar buitengewone, Goddelike GETROUHEID .... NEDERIGHEID .... SELFBEHEERSING .... in my lewe.”

20:50  Preek soos die vorige Sondagoggend by kerksondermure aan die orde – hou dop vir die moontlike skakeling deur die Gees van die Here met die ander selmateriaal van hierdie week.

(NB.  Wees oop vir die leiding van die Gees maar oppas om te veel tyd aan net een deel te spandeer – die verskillende dele vorm ’n geheel met ’n logiese afsluiting.  Daar is in die skolevakansie nie tematiese skakeling tussen kategese/ jeugwerk en die preekmateriaal nie en ons begin dus eers vanaf Sondag 18 Julie met die kwartaal se gesamentlike tema.)

21:00  Gebed en afsluiting.

Ä  Onthou asseblief om by die openingsgebed die Heilige Gees te vra om sy Vrug vir julle as sel te gee.  Hierdie materiaal is ontwerp om lede met mekaar te laat deel wat hulle in hul harte by die Gees ‘hoor’.  Loop asseblief self ook met hierdie gebed in jou hart in die dae voor die selbyeenkoms en verwag baie van die Gees vir die aand!  Vra die Gees ook om die Leermeester in die selgroeplede se harte te wees — om die woorde wat ‘oorbekend’ klink nuut oop te maak vir almal en te gebruik om lewens te verander.

 

  1. Aantekeninge by die voorbereidingstuk vir hierdie week:
    1. Dis skoolvakansie en ons het dus geen jeugwerkmateriaal oor die tema van die week nie.  Ons sal vir die vakansieweke baie prakties die “Op pad met Jesus se liefde”-jaartema die nege elemente van die vrug van die Gees vir ons laat oopsluit.
    2. Die tema van die dag en die aansluiting by die jaartema (Op pad met Jesus se liefde…) word in opskrifstyl gegee as ’n soort aankondiging in die loop van die program vir jou gerief.
    3. Onthou asseblief weer, dis die wag op die Here wat hier die diepte gaan bring (en dis nie jou werk om ’n super-teologiese lesing wat almal verstom te gee nie).  Lede word aangemoedig om hom/ haar oop te maak vir die Here se stem en pront te vra: “Wat wil U hiermee vir my sê, Here?”  Laat jou deur die Gees lei – en moenie bang wees om, as jy dit ervaar, die sel by ’n heilige moment eers te vra om weer elkeen voor die Here stil te word nie.
    4. Lees gerus weer deur die sewe sleutels (weer hier onder afgedruk vir jou gerief).  Onthou dat die eerste sleutel daar beteken dat die Gees se inwoning en onbelemmerde werking in die kind van God sy hele lewe anders maak en in hom/ haar die werk van Jesus wys vir enigeen om te sien.
    5. Dis onmoontlik vir gewone mense soos ons om hierdie vers ‘uit te put’.  Daar sal altyd nóg wees om by die Here hieroor te hoor.   Wees veral versigtig om die woordjies as oorbekende begrippe te sien.   Stop liewer en probeer die Here verder te hoor oor wat elkeen eintlik beteken, hoe die begrippe by mekaar inskakel, hoe hulle in die beeld van die vrug op geestelike groei wys, wat hulle in jou lewe beteken, nog kán beteken, ens.  Die elemente begin byvoorbeeld met ’n ‘bekende’ een en sluit af met ’n paar wat meer ‘misterieus’ is – asof hulle doelbewus vrae opwek.  Dít jaag jou weer terug na die geheel … en laat jou telkens vassteek by die eienaardige afsluitsin: “Teen sulke dinge is daar nie ’n wet nie.”  [Afr 83  “… het die wet niks nie.”]
    6. Onthou weer die onderskeiding tussen die (1)spesiale genadegawes van die Gees, die (2)bedieninge van die Gees en die (3)kragtige werkinge van die Gees (almal daar by I Kor 12: 4-6) en dan die (4)‘vrug van die Gees.  Die vrug van die Gees in jou lewe is die natuurlike gevolg van die inwoning en onbelemmerde werking van die Gees.  Daar is verder heelwat verskille wat mens kan raaksien, maar miskien is nog een van die meer belangrikes dat God die genadegawes gee tot opbou van die gemeente en die vrug gee vir die wêreld om te sien dat daar iets uiters spesiaal aan die gang is in sy kinders se lewens.    NB: Jy kan nie een van die twee in eie krag in jou lewe prakseer (inoefen of self fabriseer) nie.
    7. Hierdie ‘dryfkragte’ van liefde-vreugde-vrede ens moet deur jou aangevra en toegelaat word.  Jy kan altyd die Gees bedroef, teëstaan en selfs uitblus.
    8. Hou asseblief die gesprek so eenvoudig en so prakties as moontlik.  Daag gerus die Selgroep uit om die week deur te gaan met die konstante gebed: “Laat my hierdie week regtig getrou wees aan U, my Vader; laat my nederig wees soos Jesus; laat my volhard met die nuwe lewe deur u Gees wat in my woon …”
    9. i.        Volgende week vanaf 19 Julie tel ons DV weer die gemeente-tema op saam met die jeugwerk/ kategese en die prediking.
    10. As jy van gedagte is dat die lede só beter vir die sel gaan voorberei, kan jy vir elkeen die hele Voorbereidingstuk van Week 12 tot 18 Julie 2010 netso per e-pos aanstuur en hulle vra om dit vir hulself uit te druk.  Dis doelbewus net een bladsy A3.

 

Sterkte en seën met julle sel vandeesweek!
Hannes

Addendum:

SEWE SLEUTELS BY DIE VERSTAAN VAN GAL 5: 22

*  Die woord ‘vrug’ in die vers is doelbewus enkelvoud – ‘vrug’ en nie vrugte nie.  Dus een vrug met nege verskillende elemente – soos vorm, kleur, geur, tekstuur, smaak, sap, ens.

*  Die vrug van die Gees in jou lewe is die natuurlike gevolg van die inwoning en onbelemmerde teenwoordigheid van die Gees daar.  (In alle alledaagse én buitengewone situasies.)

*  Die beeld van ‘vrug’ is ’n aanduiding van geestelike groei en rypwording in die kind van die Here.

*  Die aangename gedagte aan ’n geurige, gesonde, voedsame vrug as kos roep die waarheid op van God as Skepper se versorging en God as Redder se herstel van sy beeld in jou.

*  Die volgorde is nie toevallig nie!  Dit begin met ’n bepaalde een en sluit met ’n bepaalde een en die elemente werk op mekaar ín volgens hulle plasing.

*  Elke element lei ons na die volgende een.  Waar daar ‘absolute liefde’ is, volg ‘vreugde’.

*  Gebrek aan ’n bepaalde element wys jou terug na die vorige element.  Kort jy byvoorbeeld ‘vrede’, het iets waarskynlik jou ‘vreugde’ gesteel.

 

SELLEIERS KONTAKBRIEF #22 VAN 2010

KSM SELLEIERS KONTAKBRIEF #22 VAN 2010

Maandag 12 Julie 2010

.... en WELKOM TERUG as julle iewers lekker warm was!

[terloops is daar duidelik iets van die dreigende aardverwarming wat ek nie so mooi verstaan nie – mens bibber dan elke winter nog meer as die vorige een?]

INHOUD (39 reëls – twee minute as jy stadig lees):

  1. Nuusbrokkies vir ons selle – dra asb oor!
  2. Werkswinkel vir selleiers 14 Augustus
  3. Soek julle sel dalk ’n nuwe lid of drie?
  4. Datums vir selle om te onthou

Nuusbrokkies vir selle – leiers dra asseblief oor

  1. Die ‘Biker’-sel van kerksondermure het eerskomende Sondagoggend ’n uitreikrit met ’n besonderse bestemming.  Hulle besoek ’n gemeenskap van hulpbehoewende Afrikaanse mense op ’n hoewe en neem allerlei interessante bruikbaarhede saam vir mense wat dikwels net die klere aan hulle lyf oorhet.  Die ksm-Bikers vra of daar dalk ander selle of individue is wat iets wat nog bruikbaar is, het wat hulle wil saamstuur – kos, klere, orige boumateriaal ens.  As daar iemand is wat met ’n bakkie wil saamry en help karwei, is hulle ook welkom om Renate Scheepers te kontak – haar volledige brief aangeheg onder ‘Bikers breek brood’.
  2. Ons het altyd nuwe lede wat selle soek (en ’n skaarste aan selle wat plek het) – skakel asseblief as julle plek in julle sel het.  Maar beter nog – as die selleier(s) nie daar kan wees nie, laat die sel iemand afvaardig om julle te verteenwoordig by Woensdagaand 28 Julie se sel-indelingsaand.  Wonderlike saamkom, hierdie ene.  Ons gee ’n spreekbeurt aan selleiers of afgevaardigdes om een en ander van hulle sel te vertel sodat nuwelinge kan kies waar hulle wil aansluit.  Dis nuttig as ons voor die tyd kan weet as julle sel daardie aand kom – daar’s altyd mense op die lys van selsoekers wat ons spesifiek aan julle wil voorstel en daarom aanmoedig om moeite te doen om te kom.  Bel Retha asb by 012-663-2003x209.
  3. Is daar intersessie-selle wat by gemeente-intersessie wil inskakel?   Louise Kohn lyk so reg om ons sel-kontak vir intersessie te wees.  Lidmate kan voorbiddingsversoeke e-pos aan Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien .  As u sel ’n roeping vir intersessie as sel by die Here kry, teken dit asseblief op julle selprofiel aan en stuur vir Hannes sodat ons u kan vind wanneer dit skielik nodig is.
  4. Daar is spesiale materiaal vir beginner-selle beskikbaar – waar kenners die ontwikkeling van nuwe selle, selleierskap en die groei van selle in die vorm van ’n reeks sel-programme op skrif gestel het.  (Dis uit die sogenaamde ‘George-model’).  Selle is welkom om dit aan te vra, deur te kyk en te gebruik as hulle wil.  E-pos Hannes Gildenhuys vir verdere inligting.
  5. September is lente-maand – nuwe lewe en bloeisels oral.  Ons dames hou Vreugdefees op die 17de en die 18de.  Skakel Elmaine Deyzel gerus by 082-303-5458 vir meer inligting.
  6. Sellede is welkom om vir eie gebruik op ’n aparte poslys die ksm-selmateriaal wat aansluit by ksm se prediking en jeugwerk/ kategese te ontvang (veral bedoel vir lede van selle wat met ander materiaal besig is).  Stuur net e-posadres aan Hannes Gildenhuys.

Selsake – datums wat (vinnig) naderkom:

Selle-indelingsaand       Woensdagaand 28-07-2010 (28 Julie) by die kerk.  Ons soek selle wat nog lede soek ... en natuurlik ook altyd lede wat nuwe selle soek en oud-selleiers wat mentor-selle kan begin.  Skakel Retha by 012-663-2003x209 as julle die aand as selleier kan bywoon en daar meer van julle sel wil vertel.

Selleierswerkswinkel    Saterdagoggend 14-08-2010 van 09:00 tot 13:00 (14 Augustus).  Teken asseblief die datum aan en hou oop vir ’n oggend van selleiersvaardighede deel en opskerp.

Nuwe Lidmaat-verwelkoming   Woensdagaand 25-08-2010 om 18:30 (25 Augustus).  Ons het ’n ‘kuier-tafel’ vir die selle-bediening ook.  Altyd ’n spesiale aand.  Selleiers kan gerus kom help – en dalk ’n splinternuwe sellid of sel-gesin daar kry.  Bel of e-pos Hannes vir navrae.

Selleier!  Teken asseblief hierdie datums in jou dagboek aan en gee dit entoesiasties deur vir die sel.

 

Geseënde selbyeenkomste vir almal dié week!

Hannes Gildenhuys

ksm-selbediening   073-662-7304   Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien  .... skype-adreshannes.gildenhuys
 

Week 12 tot 18 Julie 2010 (skoolvakansie-week #4)

Voorbereiding – kerksondermure-omgeegroepe/-selle
Week 12 tot 18 Julie 2010  (skoolvakansie-week #4)

Selgroepe wat hierdie skoolvakansie weekliks bymekaargekom het, kon van 13 Junie tot 18 Julie saam met ons vir vier weke ’n ekstra draai geloop het met behulp van ons gemeente se jaartema in een van die rykste en waardevolste dele in die Bybel – die ‘Vrug van die Heilige Gees” in Gal 5: 22.

VAKANSIE-TEMA STAP VIER: OP PAD MET JESUS SE LIEFDE — WYS DAAR BUITENGEWONE, GODDELIKE GETROUHEID ... NEDERIGHEID ... SELFBEHEERSING IN MY LEWE.

 “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”     [Gal 5: 22]

TERUGVOER OOR DIE DRIE VRUG-‘ELEMENTE’ VAN VERLEDE WEEK – GEDULD, VRIENDELIKHEID, GOED(HARTIG)HEID:
 Ons sel het ’n baie lewendige, soms lekker rumoerige byeenkoms hieroor gehad.  Miskien veral omdat mens se karakter skielik so onder ’n vergrootglas beland.
 Dis moeilik om dié vrug van die Gees se beweging in jou lewe te verstaan as nie iets wat jý regkry nie.  Dis iets anders as die gawes van die Gees; meer die logiese gevolg van sy inwoning.
 Ons het vasgeval met goed(hartig)heid/ ‘kindness’!  Wat is dit regtig?  En vriendelikheid??
 Die idee is nié om elkeen van die nege elemente ‘uitmekaar te trek’ nie.  Eerder om elkeen as ’n bril op te sit en na jou ‘nuwe mens’-wees in die Gees te kyk.  Mens noem dit ook die ‘ondersoek jou hart’-metode – waar jy kyk wat jy regtig, eerlikwaar, voel in jou hart en dit openlik aan jouself erken.

SEL SE BESPREKING – HOU BYBELS OOP BY Gal 5: 13-26.  BAIE LEIDRADE DAAR!
[Die laaste klompie ‘elemente’ van die Vrug van die Gees lyk so asof hulle al hoe meer ‘misteries’ kan wees – geheimenisse soos die Bybel op plekke sê.  Want dis veral húlle wat wêreldse mense nuuskierig maak en nie toelaat om vir jou die krediet te gee nie, maar hulle na God toe wys.]
a) Wat sou die drie woorde ‘getrouheid, nederigheid, selfbeheersing’ as karaktertrekke van Jesus beteken?   Pas hulle by Hom?
b) Watter ander woorde koppel met die woord ‘getrouheid’ (Engels: ‘faith’ of ‘faithfulness’) wat min of meer dieselfde beteken?  Kan ‘getrouheid’ byvoorbeeld dalk ook ‘lojaliteit’ wees?  Wat sou ‘lojaliteit’ as vrug van die Gees dan in jou lewe beteken?
c) Watter ander woorde koppel met die woord ‘nederigheid’ (Engels: ‘meekness’ of ‘gentleness’) wat min of meer dieselfde beteken?  Wat sou ‘nederigheid’ as vrug van die Gees dan in jou lewe beteken?
d) Watter ander woorde koppel met die woord ‘selfbeheersing’ (Engels: ‘self-control’) wat min of meer dieselfde beteken?  Wat sou ‘selfbeheersing’ as vrug van die Gees dan in jou lewe beteken?
e) Lees die laaste drie verse van die hoofstuk saam deur – deel gedagtes daaroor.  [Gal 5: 24-26]

OOR VORIGE SONDAG SE OGGENDPREEK – WAT SÊ DIE HEILIGE GEES VIR MY/ VIR ONS/ VIR DIE SELGROEP?
Maleagi 1: 6c  “ ... as Ek Here is, waar is die eerbied vir My dan?”
TEMA:  HET DIE HERE AL MET JOU IN GESPREK GETREE OOR JOU SONDES?
 BESPREEK:  Vals aanbidding is uiters gevaarlik – die Lewende God kyk dit nie mis nie en laat dit nie maar verbygaan nie;
 Hoeveel eer gee ek aan God in my aanbidding ... en wanneer probeer ek mense beïndruk?
 BESPREEK:  God sê:  “Met oppervlakkige aanbidding gee jy My nie ruimte om vir jou te sorg nie.”
 BESPREEK:  Die vyand rysmier my lewe onopsigtelik as ek nie in God se lig wil lewe nie.
 Waar is die vaste punt vir my lewenskoers – in myself of in God se Woord?

[LAAI NOTAS AF]

   

Week 05 tot 11 Julie 2010 (skoolvakansie-week #3)

Voorbereiding – kerksondermure-omgeegroepe/-selle
Week 05 tot 11 Julie 2010  (skoolvakansie-week #3)

Selgroepe wat hierdie skoolvakansie weekliks bymekaarkom, kan van 13 Junie tot 18 Julie saam met ons vir vier weke ’n ekstra draai loop met behulp van ons gemeente se jaartema in een van die rykste en waardevolste dele in die Bybel – die ‘Vrug van die Heilige Gees” in Gal 5: 22.

VAKANSIE-TEMA STAP DRIE: OP PAD MET JESUS SE LIEFDE — WYS DAAR BUITENGEWONE, GODDELIKE GEDULD ... VRIENDELIKHEID ... GOEDHARTIGHEID IN MY LEWE.

 “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”     [Gal 5: 22]

TERUGVOER OOR DIE DRIE VRUG-‘ELEMENTE’ VAN VERLEDE WEEK – ABSOLUTE LIEFDE, VREUGDE, VREDE:
 Daardie ‘LIEFDE’ is die soort waarvan die Bybel praat as daar staan “God is liefde” [I Joh 4: 8];
 God wys en verduidelik hierdie ‘absolute’ liefde deur “sy enigste Seun na die wêreld te stuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê” [I Joh 4: 9];
 VREUGDE volg waar jy dié ‘absolute liefde’ in jou het omdat die Gees in jou woon;
 Dis jou keuse – of jy die Gees se vreugdevrug toelaat en laat posvat rondom jou;
 Ja, ons weet die sagte VREDE van die Gees volg op gedeelde Vreugde … en as jou Vrede verdwyn, het iemand jou Vreugde gesteel.  (Soos die sewende sleutel van verlede week gesê het: As dit vir jou voel asof daar een van die Vrug-Elemente weg is, het jy
waarskynlik fout met die element net voor daardie een op die lys.)

SEL SE BESPREKING – HOU BYBELS OOP BY Gal 5: 13-26.  BAIE LEIDRADE DAAR!
[Onthou:  Die idee is NIE om elkeen van hierdie elemente van die Vrug van die Gees ‘reg te kry’ nie.  Laat die Gees toe om sy teenwoordigheid in jou te laat werk en leer om jou hart eerlik voor Hom te ondersoek.  Bring dan die elemente van die Vrug van die Gees een vir een na Hom en vra dit vir jou.]

a) Bespreek die stelling: “GEDULD is maklik vir ons ’n struikelblok omdat ons dit sélf wil ontwikkel in plaas daarvan om dit deurentyd van die Here te vra.”
b) Watter dinge in jou lewe toets jou geduld die kwaaiste?  Hoe moet dit verander?
c) Bespreek die stelling: “Ongelukkig lyk baie Christene gewoonlik maar ONVRIENDELIK en is hulle nie eintlik ’n advertensie vir die Here se Koninkryk nie.”
d) Dink jy vriendelikheid teenoor alle mense kan ontwikkel of ís jy maar soos jy is?
e) Bespreek die stelling: “GOEDHARTIGHEID is iets wat jy vir die lekker moet beoefen.”
f) Wat beteken dit regtig as die Bybel sê “God het die blymoedige gewer lief”?  [II Kor 9: 7]

OOR VORIGE SONDAG SE OGGENDPREEK – WAT SÊ DIE HEILIGE GEES VIR MY/ VIR ONS/ VIR DIE SELGROEP?
Jes 1: 2-20  “ 18Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here:  Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu.  Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.”

TEMA:  IS GODSDIENSTIGHEID ’N GOEIE DING ... OF SLEG?
 Dinge lyk maar sleg vir die volk van die Here – hulle kén Hom nie meer nie!  Straf en verwoesting wag.  Volk, land, stad en tempel word alles bedreig.  As hulle aangespreek word, is daar eers groot stilte van hulle kant – hulle ken immers nie hierdie God nie.  Maar dan volg daar ’n ommeswaai.  Godsdiens word skielik populêr en daar word oorvloedig ge-offer en ge-‘bid’.
 God los hulle nie uit nie.  Hy spel die gevaar van oppervlakkige ‘godsdienstigheid’ uit.  Nou is die volk amper moedswillig stil – is dit dan nie genoeg om godsdienstig te wees nie?
 En uiteindelik volg die uitnodiging van die God van liefde:  “Kom ... laat ons die saak uitmaak ...”  God soek persoonlike oorgawe, belydenis van skuld, ’n volk wat hulle God wil gehoorsaam.

[LAAI NOTAS AF]

 

Week 20 tot 26 Junie 2010 (skoolvakansie week #1)

Voorbereiding – kerksondermure-omgeegroepe/-selle
Week 20 tot 26 Junie 2010  (skoolvakansie week #1)

Selgroepe wat hierdie skoolvakansie weekliks bymekaarkom, kan saam met ons ’n ekstra draai loop met ons gemeente se jaartema in een van die rykste en waardevolste dele in die Bybel – die ‘Vrug van die Heilige Gees” in Gal 5: 22.  Dis een van daardie dele van die Bybel wat mens maklik ‘bekend’ of selfs ‘oorbekend’ kan noem, ’n vinnige kykie gee en ... verbyblaai – GROOT FOUT!
Want dis juis een van daardie verse waar mens jou gedurig in nuwe ontdekkings vasloop ... en in nuwe vrae ... en in beloftes van baie, baie meer as wat jy tot dusver raakgesien en jou eie gemaak het.

TEMA: OP PAD MET JESUS SE LIEFDE — WORD DIE VRUG VAN DIE HEILIGE GEES DIE ‘AANGENAME GEUR’ VAN MY LEWE IN HIERDIE WÊRELD.

OOR VORIGE SONDAG SE OGGENDPREEK – WAT SÊ DIE HEILIGE GEES VIR MY/ VIR ONS/ VIR DIE SELGROEP?
Skriflesing Jos 24: 1-2a, 13-16; Rigt 2: 6-10
“Ook ons sal die Here dien, Hy is ons God.”                      [Jos 24: 18]
“Al die mense van sy (Josua se) leeftyd het gesterf, en die volgende geslag het nie die Here geken nie.”                                                     [Rigt 2: 10]

VOORNEMENS WAT NET VOORNEMENS BLY, IS NIKS WERD NIE.

SEL-GESPREK OOR TEMA:  Op pad met Jesus se liefde ... word die vrug van die Heilige Gees die ‘aangename geur’ van my lewe in hierdie wêreld.

“Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”     [Gal 5: 22]

SEWE BELANGRIKE SLEUTELS:
 Lyk asof die beeld doelbewus enkelvoud is – ‘vrug’ en nie ‘vrugte’ nie.  Dus een vrug met nege verskillende elemente – soos vorm, kleur, geur, tekstuur, smaak, sap ens in ’n gewone vrug
 Die vrug van die Gees in jou lewe is die natuurlike gevolg van die inwoning en onbelemmerde werking van die Gees daar.
 Die beeld van ‘vrug’ is aanduiding van groei en rypwording in die kind van die Here.
 Die aangename gedagte aan ’n geurige, gesonde, voedsame vrug roep die waarheid op van God as Skepper se versorging en God as Redder se herstel van sy beeld in jou.
 Die volgorde is nie toevallig nie!  Dit begin met ’n bepaalde een en sluit met ’n bepaalde een en die elemente werk op mekaar ín volgens hulle plasing.
 Elke element lei ons na die volgende een.  Waar daar ‘absolute liefde’ is, volg ‘vreugde’.
 Waarneembare gebrek aan ’n bepaalde element wys jou terug na die vorige element.  Kort jy byvoorbeeld ‘vrede’, het iets waarskynlik jou ‘vreugde’ gesteel.

SEL SE BESPREKING:
a) Die selgroep mediteer minstens vyf minute in totale stilte oor vers 22.  Deel dan met mekaar wat die Here vir jou vanaand in hierdie vers sê.
b) Maak dit sin dat daar nege ‘dele’ of ‘elemente’ van een vrug hier is?   Hoe en hoekom?
c) Wat is die verskil tussen die genadegawes en die vrug van die Gees?
d) BESPREEK:  “God wys Homself aan die wêreld waar sy kinders se lewens die vrug van die inwoning van sy Gees dra.”

[LAAI NOTAS AF]

   

Bladsy 1 van 2

Restore Default Settings

Inteken- area