Feesgeleenthede
Vinnige skakels
Die Krag van VerkwikkingFanie Venter
Die Bybel is vol van ryk metafore wat vorm gee aan ons verstaan van kerkwees. Die bekendste hiervan is sekerlik die kerk as huisgesin van God en die liggaam van Christus. Maar daar is ook ’n aantal eietydse beelde wat, op die spoor van Bybelse metafore, ons verstaan van kerkwees vorm. Ek is seker jy het al preke gehoor en artikels gelees waarin na die kerk verwysing word as ’n groot oorlogskip. Op hierdie skip, word dan gesê, is daar nie plek vir passasiers nie. Elke bemanningslid (lidmaat) het ’n funksie om te vervul.
In hierdie artikel wil ek ’n bietjie kleiner gaan en vir ’n paar oomblikke aan die kerk (ons gemeente) dink as ’n kano op ’n rivier. As jy al op ’n rivier was, sal jy weet die stroom verander kort-kort. Daar is stroomversnellings (rapids) en rustige stil dele. Rotse, boomstompe en takke is opwindende uitdagings wanneer die stroom versnel.
Elkeen wat almal in ’n kano op ’n rivier was en almal wat deel is van die hart van kerksondermure weet die stroomversnellings is die tye van opwinding en uitdagings. Water wat spat in jou gesig. Spanwerk soos nooit tevore, breukdeel beslissings, harte wat pomp en adrenalien wat vloei is alles deel van so ’n rit. Dit is vuis in die lug tye. Maar so ’n pas kan nooit volgehou word nie. Gelukkig bestaan ’n rivier nie net uit stroomversnellings nie. Om die draai is daar altyd stil water. Tyd vir diep asem haal, water uitskep en vir ’n slag weer kyk na die kaart om jou te oriënteer vir die res van jou reis.
Kerksondermure is die afgelope klompie jaar ’n kano op ’n wilde witwater rivier. Ons groei en veranderende omstandighede neem ons deur die een opwindende stroomversnelling na die ander. Terwyl ons uitsien na die volgende opwindende stuk rivier, wil ek tog die vlag opsteek. Ek wil ons aandag vestig op die stil water tye waarvan Psalm 23 praat. Dis waar die Herder my ontmoet en “my siel verkwik”.
Anders as die rit in ’n kano op ’n regte rivier, kom die stil water nie noodwendig na die stroomversnellings nie. Elkeen van ons (ons gemeente ook) moet daarom die ritme van stil water tye in ons lewens inbou. Tye waarin ons God se teenwoordigheid, sy liefde en genade weer diep kan inasem. Tye waarin sy stem ons verkwik, troos en lei. Tye van luister en lees, sodat ons deur sy Woord en Gees georiënteer kan word vir ons reis.
Ek is baie seker uitdagende opwindende wit water tye lê vir ons almal voor. Juis daarom mag ons die ritme van stilword (verkwikking) nooit verwaarloos nie.
'n Vrou na God se Hart Vreugdefees

